Die LUR vir Landbou, Omgewingsake, Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, mnr. Lebogang Motlhaping, het Dinsdag 14 Julie 2026, saam met die Departementshoof, mnr. Monakali, en die Departement se Uitvoerende Bestuur, ‘n produktiewe gesprek met Pecan SA by die organisasie se verwerkingsfasiliteit in Hartswater gevoer.
Die vergadering het die Departement se verbintenis tot sterker samewerking met georganiseerde landbou beklemtoon om inklusiewe groei, innovasie en beleggings in die landbousektor te bevorder.
Besprekings het gehandel oor die uitbreiding van publiek-private vennootskappe, die kommersialisering van opkomende en swart boere, die versterking van landbouwaardekettings, asook die bevordering van navorsing en innovasie.
Daar is ook gekyk na die toekomstige ontwikkeling van die Vaalharts-navorsingstasie as ‘n sentrum van uitnemendheid vir landbounavorsing en tegnologie-oordrag.





