Graad 8- en 9-leerders van Okiep Hoërskool het die voorreg gehad om deel te neem aan ’n inspirerende STEM-wetenskapsprogram wat deur die Departement van Basiese Onderwys, in samewerking met die South African Council for Natural Scientific Professions (SACNASP) en die Siyafunda Education Foundation (SEF), aangebied is.
Die program het leerders op ’n prettige en interaktiewe wyse aan wetenskap, tegnologie, probleemoplossing en innovasie blootgestel.
Deur middel van praktiese aktiwiteite kon hulle hul nuuskierigheid uitleef, nuwe kennis opdoen en eerstehands ervaar hoe wetenskap deel van die alledaagse lewe is.
Die skool se Graad 8- en 9-leerders het die geleentheid terdeë geniet en met groot entoesiasme aan die verskillende aktiwiteite deelgeneem, onder leiding van die skool Wetenskap-opvoeder, Juffrou G. Hollenbach.
’n Spesiale woord van dank gaan aan Juffrou F. Soudens, Fisiese Wetenskappe Vakadviseur, vir haar waardevolle ondersteuning en begeleiding.
Die skool het hul opregte waardering uitgespreek teenoor al die betrokkenes wat hierdie besonderse en leersame geleentheid moontlik gemaak het.
Dit was ’n verrykende ervaring wat Okiep Hoërskool leerders se belangstelling in STEM-velde verder aangewakker het en hulle aangemoedig het om met kreatiwiteit, kritiese denke en innovasie na die wêreld rondom hulle te kyk.
