Met groot opgewondenheid het Graad R-leerders van Carolusberg Primêre Skool vandag ’n besoek aan Radio NFM gebring as deel van hul beroepsweek.
Die beroepsweek, wat Maandag begin het, stel die jong leerders aan verskillende beroepe en werksomgewings bloot.
Onder leiding van hul onderwyser, mnr. Wystan Cloete, het die leerders gedurende die week kennis gemaak met onder meer fotografie, besigheid, die polisie, radio en die kulinêre bedryf.
Tydens hul besoek aan Radio NFM het die klein gesiggies die geleentheid gekry om die radiostasie van nader te leer ken.
Hulle het saam met Tannie Samantha tydens Stuur ’n Briefie op die lug gekuier, waar hulle hul ouers en Radio NFM se luisteraars hartlik gegroet het.
Die besoek het selfs ’n spesiale reaksie van een van die ouers ontlok, wat tydens die uitsending ingeskakel het en gesê het: “Môre Mnr, ag jinne, hulle was te pragtig. Mammie se kind het mooi gepraat.”
Die leerders was ook baie opgewonde om vir Abel van Loslitdag te ontmoet.
Mnr. Strauss het aan hulle verduidelik waaroor Loslitdag gaan en hulle daarna tien vrae gevra.
Die jong deelnemers het luidkeels en entoesiasties geantwoord, met elke leerder wat ’n plakker as beloning ontvang het.
Die besoek aan Radio NFM was ’n waardevolle en onvergeetlike ervaring vir die jong leerders.
Dit het hulle nie net die geleentheid gegee om ’n radio-omgewing eerstehands te ervaar nie, maar ook om te sien hoe verskillende mense in die media- en gemeenskapsdiens werk.
Carolusberg Primêre Skool se beroepsweek bied aan leerders die geleentheid om vroeg reeds oor verskillende loopbane te leer en hul verbeelding oor toekomstige moontlikhede te prikkel.
Vir hierdie jong Graad R’s sal hul besoek aan Radio NFM ongetwyfeld ’n spesiale herinnering wees wat hulle nog lank sal koester.









