Die eerste rondte van die Namakwa Skaaktoernooi het op 20 Junie in Steinkopf plaasgevind, waar skaakspelers van regoor die distrik meegeding het om hul plekke vir die Northern Cape Closed Chess Championships later vanjaar te verseker.
Die toernooi dien as ‘n belangrike keuringsgeleentheid vir die provinsiale kampioenskap, waar die Noord-Kaap se voorste skaakspelers teen mekaar sal meeding.
Die skool het verlede jaar reeds vier spelers vir die gesogte kampioenskap opgelewer en vanjaar toon die span weer belowende potensiaal.
Verskeie spelers het sterk vertonings gelewer en hul kanse op provinsiale keuring aansienlik verbeter.
In die o.16-afdeling het Jatin Engelbrecht eerste geëindig met ‘n uitstekende vertoning, terwyl Anthony Bowers ‘n verdienstelike derde plek behaal het.
Die spelers staan onder leiding van mnr. Jonas, wat hulle voorberei vir die volgende rondtes van die Namakwa Skaaktoernooi.
Intussen is die span ook besig met voorbereidings vir die Alexforbes Battle Boards National Championships wat op 1 Augustus plaasvind, nadat hulle vroeër vanjaar vir die nasionale eindronde gekwalifiseer het.
Die skool het die spelers gelukgewens met hul prestasies en hul harde werk en deursettingsvermoë geloof.
Daar word vertrou dat die span hul sukses in die komende rondtes en op nasionale vlak sal voortsit.
“Baie geluk aan al ons spelers. Julle harde werk en deursettingsvermoë maak ons trots. Laat die Blouvlam helder brand!”
