Die Buffelsrivier-gemeenskap kan binnekort uitsien na ’n opwindende biblioteek-opgradering.
Die huidige fasiliteit, wat tans uit ’n vraghouer bedryf word, sal vervang word deur ’n voorbereide 10-meter biblioteek wat beter toegerus is om aan die groeiende behoeftes van die gemeenskap te voldoen.
Volgens die behoeftebepaling is daar ’n merkbare toename in biblioteeklidmaatskap sowel as verbeterde boeksirkulasie, wat die noodsaaklikheid vir die opgradering bevestig.
Raadslid Amos Palori het sy volle steun aan die toekomstige projek uitgespreek en benadruk dat die planne binne die 2027-boekjaar gerealiseer behoort te word.
Intussen sal daar tydelike verbeterings aan die bestaande biblioteek aangebring word, insluitend nuwe rakke en die toevoeging van genoegsame boeke om taalverwante diversiteit en inklusiwiteit te bevorder.
Die huidige biblioteek bied reeds ’n reeks waardevolle dienste aan die gemeenskap, waaronder:
- Gratis internettoegang
- Vier tablette vir studente en jongmense
- ’n Permanente biblioteekwerker
- ’n Verskeidenheid Afrikaanse boeke
- Gratis lidmaatskap vir alle inwoners
Daarbenewens is die E-boeke-applikasie beskikbaar vir diegene wat graag elektronies lees, ’n moderne en gerieflike manier om toegang tot leesstof te verkry.
Bertie “Boekwurm” Saal, die gewilde leeskampioen in die Namakwa-streek, het sy optimisme uitgespreek oor die projek en sê hy is “opgewonde oor die eindelose moontlikhede wat die nuwe biblioteek vir Buffelsrivier inhou.”
Met hierdie inisiatief word ’n belangrike belegging in geletterdheid, opvoeding en gemeenskapsontwikkeling gemaak en die toekoms van lees in Buffelsrivier lyk helder.


