Die waaksaamheid van ’n buite-diens SAPD-kaptein het gelei tot die inhegtenisneming van ’n vermeende dwelmhandelaar by ’n vulstasie in Kakamas.

Die kaptein, wat aan die Pofadder-polisiestasie verbonde is, was Dinsdag 3 Maart 2026 omstreeks 18:30 besig om sy privaat voertuig vol brandstof te maak toe hy ’n bekende dwelmhandelaar onder ’n groep mense by ’n nabygeleë voertuig opmerk.

Volgens die Namakwa-distrikskommissaris, brigadier Schalk Andrews, het die kaptein die groep genader, waarna die verdagte glo ’n pakkie probeer wegsteek het deur dit onder sy voete te skuif. ’n Deursoeking het egter Mandrax-tablette en tik met ’n geskatte straatwaarde van ongeveer R6 500 ontbloot.

’n 42-jarige buitelandse burger is op die toneel in hegtenis geneem en van dwelmhandel aangekla. Hy sal na verwagting binnekort in die hof verskyn.

Andrews het die kaptein vir sy optrede geloof en gesê die voorval is ’n bewys dat polisiebeamptes hul plig teenoor die gemeenskap ernstig opneem – selfs wanneer hulle nie amptelik aan diens is nie.

Written by:

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *