Ulric ‘Namasun’ Roberts van Concordia in Namakwaland laat weer die wêreld kennis neem van die streek se ryk erfenis met sy solo-uitstalling Walk, tans te sien by die William Humphreys Kunsgalery (WHAG) in Kimberley tot 30 Mei.
Roberts, ‘n visuele kunstenaar en gemeenskapsaktivis, is die WHAG se 2025 kunstenaar-in-residensie en gebruik die uitstalling om die stemme van Namakwaland se mense, grondkwessies en inheemse wysheid op kreatiewe wyse te verbeeld. Die kunswerke sluit olie- en akrielverf, klankinstallasies en gevonde voorwerpe in wat temas soos dekolonisasie en beweging ondersoek.
Sy werk bring ook hulde aan sy oorlede vader, Raymond Roberts, en aan voorouers, met simboliek soos rolstoele, skoene en loopstokke – ‘n refleksie op hoe mense deur tyd en ruimte beweeg. Die uitstalling is deur die WHAG en die MTN-stigting aangebied, en word beskryf as ‘n historiese eerste: ‘n grootskaalse solo-uitstalling van ’n Afrika-kunstenaar in dié galery.
Bekend vir sy unieke gebruik van pointillisme en sirkelvorms, haal Roberts inspirasie uit Namakwaland se granietberge, veldblomme en rotskuns – én uit sy bande met die Concordia Gemeenskaplike Eiendomsvereniging, waar hy ‘n aktiewe stem is in grondreg- en kultuurbehoud