Die Kimberley-polisie ondersoek ‘n huisroof wat Sondagoggend (20 Oktober 2024) vroeg in Monument Heights plaasgevind het.
‘n Inwoner van Knights Castle het aan verslaggewers gesê die voorval het omstreeks 03:00 gebeur, waar ‘n egpaar en hul eenjarige baba glo vasgebind is en met ‘n vuurwapen beroof is.
Die inwoner het ook genoem dat dit nie die eerste inbraak by die kompleks is nie.
Volgens berigte is die hekafstandbeheerders ook tydens die voorval gesteel.
Polisiewoordvoerder Timothy Sam het gesê dat voorlopige ondersoeke aandui dat vyf aanvallers by die klaer se woonstel ingebreek het.
“Hulle het hulle na bewering wakker gemaak, met skoenveters vasgebind en hulle van hul besittings beroof. Die aanvallers het met ‘n onbekende bedrag kontant en ander besittings gevlug,” het Sam gesê.
Die polisie vra dat enigiemand met inligting wat kan help met die ondersoek, speurder Desmond Markgraaf by 078 047 4437 kontak.
