Kangnas Windplaas het Vrouemaand afgeskop deur hulde te bring aan Rouchet Daniels, bestuurder van Ekonomiese Ontwikkeling, vir haar bydrae tot gemeenskapsontwikkeling in die Nama Khoi-gebied.
Daniels, wat in 2018 as projekbeampte by die windplaas aangesluit het, lei vandag programme wat vaardigheidsontwikkeling, beurse en ondersteuning aan plaaslike entrepreneurs bevorder.
Volgens Daniels gaan haar rol verder as die bestuur van gemeenskapsprojekte.
Sy sê dit is ook belangrik om te wys dat vroue hul regmatige plek in leiersrolle binne die hernubare energiesektor kan inneem.
“In ‘n sektor wat tradisioneel deur mans oorheers word, wil ek wys dat vroue ook ‘n betekenisvolle bydrae kan lewer en verandering kan dryf,” sê Daniels.
Sy moedig jong vroue in Nama Khoi aan om hul drome na te jaag en nie hul vermoëns te onderskat nie.
Kangnas Windplaas sê Daniels se werk dra by tot die skep van volhoubare geleenthede vir plaaslike gemeenskappe deur skoon energieprojekte wat ekonomiese ontwikkeling, vaardigheidsontwikkeling en entrepreneurskap bevorder.
