Met die storm wat gedeeltes van die Namakwa-Distrik die afgelope naweek geteister het, is verskeie huise en infrastruktuur in die Nama khoi munisipale-gebied beskadig.  

Gemeenskaps-aktivis, Me. Angeline Cloete sê dat sy Maandag en Dinsdag die rondtes gedoen het in Skietbank in Okiep om die omvang van die skade te bepaal.

Sy het die area te voet aangepak en deur-tot-deur gegaan om die geaffekteerde inwoners te besoek en die storm-skade te bepaal.

Minstens twee inwoners en hul gesinne is dakloos gelaat nadat die stormwind hul huise verwoes het.

Volgens Me. Cloete het een van die inwoners herberg by haar bure verkry, wat haar beskerming teen die natuur gebied het.

Verskeie ander inwoners het skade aan hul vloere en dakke gely.

 “Ek hoop nie die noodkreet van die ge-affekteerdes val op dowe ore nie, maar daar word dringend aandag geskenk aan die situasie”, het Cloete gesê.

Sy het uitgereik na die raadslid verantwoordelik vir Wyk 6, Josua Losper om hulp te verleen en dit aan te meld by die rampbestuur van die munisipaliteit.

Sy hoop dat die munisipaliteit met moontlike oplossings sal kom vir die behoeftige inwoners.

Skietbank is egter nie die enigste area wat swaar getref is deur die stormweer nie.

Die inwoners van Concordia het dieselfde lot ervaar.

Drie huise was dakloos gelaat en een het plat geval op die dorp.

Die kragtoevoer na die gebied is onderbreek as gevolg van kragkabels wat beskadig is.

Die gemeenskap van Concordia het saam gespan om van die skade te probeer herstel.

‘n Kleinhandelaar op die dorp het spykers, sowel as ander nodige materiaal geskenk, wat gebruik was om van die wonings se dakke te herstel.

Die eenheid in die gemeenskap was ‘n riem onder die hart.

Terwyl sommiges herstelwerk gedoen het, het ander sop bedien aan die inwoners wat nadelig deur die storm geraak is

‘n Gemeenskapslid van Concordia het hartverblydend gesê; “Die inwoners van Concordia is goeie mense wat omgee vir mekaar. Die span is steeds besig met die merkwaardige liefdadigheidsdiens.”

Artikel is geskryf deur Robin-Lee Milford 

Written by:

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *