Die Noord-Kaapse Departement van Gesondheid het sy deelname aan die Internasionale VIGS-konferensie 2026 in Rio de Janeiro, Brasilië, afgesluit met ‘n hernieude verbintenis om MIV en ander openbare gesondheidsuitdagings te bekamp.
Die provinsiale afvaardiging, gelei deur LUR vir Gesondheid, me. Nontobeko Vilakazi, het saam met gesondheidsleiers, gemeenskapsvoorstanders en kundiges van regoor die wêreld deelgeneem aan besprekings oor innoverende oplossings vir MIV, Ebola, COVID-19 en toekomstige gesondheidsbedreigings.
Die afvaardiging het ook gefokus op geïntegreerde sorg vir mense wat met MIV leef, die verbetering van dienslewering aan kwesbare gemeenskappe en die belangrike rol van geloofsgemeenskappe in die vermindering van stigma en die bevordering van inklusiewe sorg.
Die Noord-Kaapse span het bestaan uit verteenwoordigers van die Departemente van Gesondheid en Maatskaplike Ontwikkeling, sowel as provinsiale en distrikskoördineerders van MIV- en TB-programme en voorsitters van die Distrik-Gemeenskapsveiligheidsforums.
Tydens die sluitingseremonie op 31 Julie het afgevaardigdes van regoor die wêreld hul gesamentlike verbintenis herbevestig om MIV as ‘n openbare gesondheidsbedreiging te beëindig deur wetenskap, vennootskappe en gemeenskapsleierskap te versterk.
Die Noord-Kaapse Departement van Gesondheid sê die kennis en ervaring wat tydens die konferensie opgedoen is, sal gebruik word om dienslewering verder te verbeter en sterker, gesonder gemeenskappe regoor die provinsie te bou.





