Baie gelukwense stroom in vir die toegewyde Engelse opvoeder van SA van Wyk, Juffrou Adriane C. Cloete, met die suksesvolle voltooiing van haar internasionale kwalifikasie, die gesogte CELTA-sertifikaat.
Die kwalifikasie, bekend as die Cambridge English Level Certificate in Teaching English to Speakers of Other Languages, is deur OxfordTEFL in Barcelona, Spanje, aangebied.
Juffrou Cloete, wat verantwoordelik is vir Graad 10 tot 12 Engels en ook Graadhoof van Graad 12 is, se prestasie getuig van haar sterk toewyding tot professionele groei en haar strewe na uitnemendheid in die klaskamer.
Volgens haar was die kursus uiters intensief en veeleisend.
Sy het dit beskryf as “soos ’n army bootcamp intens, vinnig, streng mentors, regstreekse lesse aan internasionale studente, met Cambridge-tutors wat elke les evalueer het, oor verskillende tydsones heen.”
Die prestasie beklemtoon nie net haar deursettingsvermoë nie, maar ook haar passie om leerders bloot te stel aan globale standaarde en geleenthede.
Geïnspireer deur opvoedkundiges soos Paulo Freire en leiers soos Steve Biko, glo Juffrou Cloete daarin om onderwys as ’n kragtige instrument te gebruik om lewens te verander, denke te bevry en leerders te bemagtig om bo hul omstandighede uit te styg.
Die skoolgemeenskap het hul trots uitgespreek oor haar prestasie en haar visie om voortdurend te groei en nuwe wêrelde vir leerders oop te maak.
