Die Namakwa-distriksbestuur van die SAPD het die skuldigbevinding en vonnis verwelkom van ’n 33-jarige man wat in November 2022 ’n 19-jarige vrou verkrag het.
Die voorval het op 6 November 2022 plaasgevind toe die slagoffer die beskuldigde met gruis gehelp het. Hulle het daarna saam mandrax gerook, waarna die man haar seksueel aangerand het. Die jong vrou het om hulp geskreeu en kon gelukkig bystand kry en die polisie in kennis stel.
Lede van die SAPD in Port Nolloth het die beskuldigde kort daarna in hegtenis geneem. Hy is op 21 Mei 2025 in die Streekhof in Port Nolloth skuldig bevind en is vervolgens in die Streekhof in Springbok tot 15 jaar tronkstraf gevonnis vir verkragting.
Die beskuldigde se naam sal in die Nasionale Register vir Seksuele Oortreders opgeneem word, en hy is ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit.
Die Distrikskommissaris van Namakwa, brigadier Schalk Andrews, het ondersoekbeampte sersant Yolande Goedeman en die staatsaanklaer, mnr. Basil Kock, geloof vir hul deeglike werk. Andrews sê dié uitspraak stuur ’n duidelike boodskap dat geslagsgebaseerde geweld en vrouemoord ’n nasionale prioriteit is wat nie geduld sal word nie.
