Die Prieska-streekhof het die 40 jarige Jan Jakobus Louw tot 15 jaar tronkstraf gevonnis na sy skuldigbevinding aan die moord op die 36 jarige Klaas Haas.
Die voorval het op Sondag, 28 November 2021, by die slagoffer se huis in Malvastraat, Prieska plaasgevind.
Volgens die hofrekord het die beskuldigde op die dag van die voorval na die oorledene se huis gegaan en hom na buite genooi vir ’n bakleiery.
“Toe Haas die deur oopmaak, het Louw hom met ’n mes in die bors gesteek. Haas is op die toneel oorlede. Die hof het Louw skuldig bevind aan moord en hom tot 15 jaar gevangenisstraf gevonnis. Hy is ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit,” het Noord- Kaapse polisiewoordvoerder Sersant Timothy Sam gesê.
Die vervolging- en ondersoekspanne, onder leiding van advokaat Cornelia Deetlift en speur-adjudant-offisier Marshall Bosman, is geprys vir hul deeglike werk wat tot die skuldigbevinding en vonnis gelei het.
Generaal-majoor Nomana Mtukushe, distrikskommissaris van Pixley Ka Seme, het die spanne se toewyding geprys en beklemtoon dat die polisie vasberade bly om kontakmisdade uit te roei.
Sy het beklemtoon dat verhoogde sigbaarheidspatrollies en gemeenskapsgerigte polisiëring prioriteit bly.
Generaal Mtukushe het ook ’n beroep op die publiek gedoen om die polisie te ondersteun deur misdade aan te meld en hul ervaring met polisiedienste te beoordeel via die “Rate Our Service”-opname op die MySAPS-app of deur 08600 10111 te skakel.
