As ‘n totaal van 13 097 voltydse en 2 576 deeltydse kandidate in die Noord-Kaap het die eerste dag van die Nasionale Senior Sertifikaat (NSS) eksamen op Dinsdag, 24 Oktober afgeskop, het die provinsiale departement van onderwys aangedui dat dit alle basisse om ‘n suksesvolle voltooiing van die 2023 matriekeksamen te verseker.
Die departement het gesê verskeie programme en planne is ingestel om te verseker dat vanjaar se eksamens glad verloop.
Geoffrey van der Merwe, woordvoerder van die departement, het gesê graad 12-leerders is van verskeie hulpbronne en materiaal voorsien om te verseker dat hulle die eksamen suksesvol voltooi.
“Alles is slaggereed vir die Onderwysdepartement om leerders te help om hul akademiese doelwitte te bereik,” het Van der Merwe gesê.
“Verskeie data-gedrewe intervensies en herstellende maatreëls is geïmplementeer om te verseker dat leerders die nodige ondersteuning kry om hul skoolloopbaan suksesvol af te handel. Hierdie intervensies sluit onder andere in Saterdagklasse, psigososiale ondersteuning, vakansieskoolkampe, inkubasiekampe en die voorsiening van tablette aan alle graad 12-leerders gelaai met Edukite-sagteware.
“Hierdie [tablet]-inisiatief maak leer deur die gebruik van tegnologie nie net toeganklik vir leerders by die skool nie, maar ook in die gemak van hul huise. Boonop het die tablette geen data nodig om te werk nie en is toegerus met voorafgelaaide skoolvakke en innoverende leermateriaal.”
Van der Merwe het gesê die departement het ook verseker hy het genoeg mannekrag tydens die proses.
“Kandidate sal hul NSS-eksamen by 139 openbare skole, drie onafhanklike sentrums en vier distrik gevestigde sentrums skryf.
“Die antwoordstelle van die 2023 NSS-kandidate sal by drie nasiensentrums nagesien word, vanaf 7 Desember tot 23 Desember 2023. ‘n Streng nasienerseleksieproses is in ooreenstemming met die Personeel Administratiewe Maatreëls (PAM) kriteria afgehandel om te verseker dat gehaltenasien in stand gehou word. Altesaam 930 nasieners, 82 hoofnasieners, 82 interne moderators, drie sentrumbestuurders, ses adjunksentrumbestuurders, drie inligtingstegnologie (IT)-ondersteuning en 84 eksamenassistente is aangestel.
Van der Merwe het gesê dat die Noord-Kaapse provinsiale resultate op 19 Januarie 2024 bekend gemaak sal word.
“Die eindeksamen sal op 24 Oktober 2023 begin en op Woensdag, 6 Desember 2023 eindig. Die Minister van Basiese Onderwys, Angie Motshekga, maak die matriekuitslae op 18 Januarie 2024 bekend. Die Noord-Kaapse provinsiale uitslae sal vrygestel word op 19 Januarie 2024, wat gevolg sal word deur die jaarlikse Matriektoekenningseremonie.”
Hy het ouers en gemeenskapslede versoek om alle kandidate tydens hierdie proses te ondersteun.
“Matriek is ‘n hoëdruk-eksamen en groot klem word op leerders se akademiese uitkomste geplaas. Gevolglik is dit waarskynlik dat leerderstres en angsvlakke baie hoër sal wees gedurende die komende eksamenperiode. Alle kandidate word dus aangeraai om ‘n hoë premie op beide hul fisiese en geestelike gesondheid te plaas.
“Plaaslike gemeenskappe word versoek om die 2023-matriekkandidate te ondersteun deur hulle genoeg tyd en ruimte te gee om tydens die komende eindeksamen op hul studies te konsentreer. Dit is deur spanwerk tussen leerders, onderwysers, ouers en die gemeenskap in die algemeen dat die Klas van 2023 suksesvol kan wees in die eksamens en die toekoms wat op hulle wag.
“Daar word ’n beroep op die Klas van 2023 gedoen om toegewyd te bly tot hul studies en om van elke beskikbare stukkie leermateriaal vir hulle gebruik te maak,” het Van der Merwe afgesluit.
