Tiener 10 jaar tronkstraf opgelê
‘n Tiener wat ‘n 66-jarige vrou op ‘n plaas in Marydale aangeval en beroof het, is op 27 Augustus deur die Prieska-streekhof 12 jaar tronkstraf opgelê.
Sersant Molefi Shemane, Noord-Kaapse polisiewoordvoerder, het gesê die 19-jarige beskuldigde, Jovelle Jadan Floors, het met die vrou se besittings van die toneel gevlug ná die voorval wat op 13 Oktober 2023 plaasgevind het.
“Die beskuldigde is die volgende dag naby Vanwyksvlei opgespoor en in hegtenis geneem. Sy borgtog is suksesvol teengestaan,” het Shemane gesê.
Hy het bygevoeg dat Floors tot 12 jaar tronkstraf gevonnis is vir roof met verswarende omstandighede, waarvan twee jaar vir vyf jaar opgeskort is.
Die provinsiale en distriks-SAPD-bestuur het Belvian Moseki, speurbevelbeampte, geloof vir sy deeglike ondersoek na die saak.
