Leerders in die Richtersveld Plaaslike munisipaliteit het onlangs die waarde van lees en taal eerstehands beleef tydens ’n reeks Biblioteekweek-aktiwiteite wat deur A.J. Bekeur Biblioteek en RISIHA aangebied is.
Die program het op 16 Maart 2026 R.K. Intermediêre Skool en 17 Maart 2026 by Laerskool Port Nolloth plaasgevind, waar leerders van Graad 3 tot Graad 5 betrokke was by interaktiewe leesaktiwiteite, storievertellings en opvoedkundige speletjies.
Tydens die sessies is die belangrikheid van lees, dissipline in die biblioteek en die effektiewe gebruik van boeke beklemtoon.
Leerders het ook isiXhosa-stories geniet wat gelees en vertolk is, wat taaldiversiteit en kulturele begrip bevorder het.
Volgens die organiseerders vorm sulke programme deel van ’n breër poging om ’n kultuur van lees te vestig en kinders se kennis en verbeelding te ontwikkel.
Die entoesiastiese deelname van leerders het die sukses van die inisiatief onderstreep.
Die tema van vanjaar se Biblioteekweek, “Reclaiming Knowledge, Empowering Futures”, beklemtoon die rol van samewerking tussen skole, biblioteke en die gemeenskap in die holistiese ontwikkeling van kinders.
Organiseerders het hul dank uitgespreek teenoor skoolhoofde, onderwysers, beheerliggame en ouers vir hul ondersteuning, asook die leerders vir hul ywerige deelname.
Die inisiatief het weereens gewys dat samewerking ’n sleutelrol speel in die bevordering van geletterdheid en die bemagtiging van jong leerders vir die toekoms.









