Inwoners van Beauvallon in die Richtersveld het hul kommer uitgespreek nadat skoolkinders reeds vir ’n tweede week nie skool bywoon nie weens die swak toestand van die pad tussen Kuboes en Alexanderbaai.

Volgens ouers weier privaatvervoer-operateurs om die roete te gebruik omdat windverwaaide sand die pad onbegaanbaar maak. Een ouer sê die situasie raak nou krities, aangesien kinders se onderrig direk geraak word. Die eienaar van die betrokke busdiens het glo aangedui dat dienste nie hervat sal word voordat die pad herstel is nie.

Die Departement van Paaie en Openbare Werke bevestig dat hulle bewus is van die probleem. Volgens die departement het los woestynsand een baan van die pad versper — ’n algemene uitdaging in dié droë streek waar sterk winde sand op paaie neersit.

Hoewel hulpbronne tans onder druk is weens vloedskade in die Khâi-Ma-gebied, sê die departement die Beauvallon-pad bly ’n prioriteit weens sy belang vir leerdervervoer en gemeenskapstoegang.

Owerhede sê ’n span met swaar masjinerie sal so gou moontlik ontplooi word om die sand te verwyder en veilige toegang te herstel, maar intussen bly leerders en ouers in onsekerheid oor wanneer skoolbywoning weer kan hervat.

Written by:

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *