Frustrasie oor dienslewering in die breër Okiep-gebied het die afgelope dae toegeneem nadat inwoners hul kommer oor watertekorte veroorsaak deur uiterste weerstoestande en munisipale kredietbeheermaatreëls uitgespreek het.

’n Groep gemeenskapslede het gister voor die Nama Khoi-dienspunt byeengekom om hul ontevredenheid oor beweerde swak dienslewering te lug. Die inwoners wou die raadslid van Wyk 6, Leonard De Jongh, spreek oor kwessies wat volgens hulle reeds lank aandag benodig. Hoewel De Jongh nie op kantoor was nie, het die groep steeds hul griewe uitgespreek.
Volgens inwoners is pogings ook aangewend om die burgemeester van die Nama Khoi Plaaslike munisipaliteit, Rodney Kritzinger, telefonies te bereik, maar sonder sukses.

Die situasie het verder aandag getrek nadat die munisipaliteit onlangs ’n kennisgewing uitgereik het waarin inwoners gewaarsku word dat uitstaande munisipale skuld hulle moontlik kan verhinder om voorafbetaalde elektrisiteit aan te koop.
Die kennisgewing verduidelik dat kredietbeheermaatreëls toegepas sal word en moedig inwoners aan om betalingsreëlings met die munisipaliteit te tref.

Een gemeenskapslid het haar kommer uitgespreek oor die impak daarvan op kwesbare inwoners. Sy het gesê: “Dis nie reg om van ’n pensioenaris te verwag om ’n rekening van R3 000 te betaal net om elektrisiteit te kan koop nie.” Volgens haar het die nuus groot kommer veroorsaak onder inwoners wat reeds finansieel sukkel.

Intussen het die Speaker van die munisipaliteit, Dr. Gustav Bock, met die gemeenskap in gesprek getree. Tydens die gesprek het inwoners ’n tydelike oplossing voorgestel waarvolgens ’n 10 000-liter watertenk beskikbaar gestel sou word, mits die munisipaliteit dit met water vul. Die voorstel is volgens die gemeenskap aanvaar, waarna die tenk langs Radio NFM opgerig is.

’n Plakkaat wat op sosiale media versprei is, nooi intussen gemeenskapslede om vanoggend aan ’n betoging deel te neem vanaf die Nama Khoi-kantore na die kantore van Vaal Central Water. Die betoging sal na verwagting vreedsaam verloop. NFM Nuus monitor die situasie en sal verdere opdaterings verskaf.

Written by:

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *