SA van Wyk is trots om aan te kondig dat twee van die skool se leerders, 𝐑𝐞𝐰𝐚𝐧𝐨 𝐒𝐚𝐚𝐥 en 𝐀𝐝𝐞𝐥𝐚𝐲 𝐈𝐬𝐚𝐤𝐬, deur is na die top 30 van 𝐌𝐚𝐚𝐤 𝐌𝐲 ‘𝐧 𝐌𝐢𝐥𝐣𝐨𝐞𝐧ê𝐫!
“Hartlik geluk Rewano en Adelay! Julle maak ons besonders trots!,” het die skool gesê.
Hierdie twee leerders maak nou gereed vir landswye uitdagingsrondtes.
Die kompetisie, ’n inisiatief van Albert van Wyk in samewerking met ATKV-Jeugprojekte, Die Mos-Inisiatief, Akademia en ATKV-oorde, het ten doel om entrepreneurskap onder Suid-Afrikaanse jeug te bevorder en jong entrepreneurs met mentorskap, praktiese ervaring en ondersteuning toe te rus.
Vroeër vanjaar het Albert van Wyk en die “Maak My ’n Miljoenêr”-span ’n landswye toer gedoen waar 96 hoërskole besoek is en daar met meer as 120 000 leerders toegespreek is.
Uit 315 entrepreneurinskrywings is ’n Top 60 gekies wat entrepreneuriese werkswinkels bygewoon het en daarna aan die BrandBank-rondte deelgeneem het in April, onderskeidelik in die Paarl, Bloemfontein en Gauteng.
Die BrandBank is ’n unieke evaluasieproses waar deelnemers voor ’n paneel ervare entrepreneurs en beoordelaars ondervra word oor hul besighede.
Ná hierdie rondte is die Top 30 entrepreneurs aangewys wat nou verder gaan deelneem om die title van “Maak My ’n Miljoenêr” Entrepreneur van die Jaar 2026 te wen.
Gedurende die Julie-vakansie sal die Top 30 op ’n landswye toer vertrek waar hulle by vier verskillende besighede aan werklike sake-uitdagings blootgestel sal word.
Hierdie uitdagings is ontwerp om deelnemers se probleemoplossingsvermoë, leierskap, spanwerk, aanpasbaarheid en entrepreneuriese denke onder druk te toets.
Vir die eerste keer sal die deelnemers nie net beoordeel word op hul bestaande besighede nie, maar ook op hul vermoë om oplossings vir regte besigheidsprobleme te ontwikkel en uit te voer.
Die kompetisie raak egter nou aansienlik meer intens.
Ná elke uitdaging sal die verloorspan ’n moeilike besluit moet neem deur twee deelnemers uit hul span uit te stem.
Hierdie eliminasieproses sal voortduur totdat slegs die sterkste entrepreneurs oorbly.
Die uitdagingsrondtes sal uiteindelik bepaal watter deelnemers hul plek in die Top 20 verseker.
Hierdie groep sal ná die Julie-vakansie aangekondig word en verder deel vorm van die ViaTV-reeks wat vanaf Augustus uitgesaai word.
Die wenner van die kompetisie sal later vanjaar tydens ’n glansryke gala-aand aangekondig word en ontvang onder meer R50 000 kontant, verskeie borgpryse en ’n jaar lange mentorskapprogram saam met Albert van Wyk.
Volg die reis van hierdie inspirerende jong entrepreneurs terwyl hulle deur Suid-Afrika toer, uitdagings aanpak en alles gee in hul strewe om die volgende “Maak My ’n Miljoenêr” Entrepreneur van die Jaar te word.
Die nuwe seisoen word op ViaTV (kanaal 147) uitgesaai op Maandagaande om 19:00 vanaf 24 Augustus.
