Die LUR vir Samewerkende Regering, Menslike Nedersettings en Tradisionele Sake (COGHSTA), Bentley Vass, het Woensdag 22 Julie 2026 nege voltooide huise aan begunstigdes van die Concordia 29 Behuisingsprojek oorhandig.
Hy is vergesel deur die Uitvoerende Burgemeester van die Namakwa Distriksmunisipaliteit, raadslid Alinda Beukes, en Concordia-wyksraadslid Charlotte Visser.
Die projek vorm deel van die provinsiale Een Miljard Rand Behuisingsprojek wat daarop gemik is om die Noord-Kaap se behuisingsagterstand te verminder.
Met die oorhandiging is die projek 100 persent voltooi, wat beteken dat al 29 begunstigde gesinne nou oor veilige, volledig gesubsidieerde huise beskik.
LUR Vass het gesê die voltooiing van die projek weerspieël die regering se verbintenis om al 2 500 huise wat deel vorm van die eerste fase van die Een Miljard Rand Behuisingsprojek betyds te lewer.
Hy het kontrakteurs aangemoedig om die bouwerk te versnel sonder om die gehalte van die huise in te boet.
Een van die begunstigdes, Brandon-Lee Niewoudt, wat ‘n rolstoel gebruik, het sy dankbaarheid uitgespreek vir sy aangepaste woning wat spesiaal ontwerp is om fisiese hindernisse te verminder en sy onafhanklikheid te bevorder.
Hy het gesê die huis maak daaglikse take veiliger en makliker en bied nuwe hoop vir hom en sy gesin.
Uitvoerende Burgemeester Alinda Beukes het nuwe huiseienaars aangemoedig om hul eiendomme goed te versorg en hulle daaraan herinner dat die verkoop van die gesubsidieerde huise onwettig is.
Vass en Beukes het ook bome by die nuwe huise geplant as deel van ‘n inisiatief om die gemeenskap te vergroen en te verfraai.
Die departement het bevestig dat die behuisingsveldtog voortgaan met verdere huisoorhandigings by die Onseepkans 90 Behuisingsprojek in die Khâi-Ma Plaaslike Munisipaliteit.






