Die waaksaamheid van lede van die Brandvlei-polisie het gelei tot die inhegtenisneming van twee vroue wat na bewering in besit van dwelms was.
Volgens die SAPD het polisiebeamptes Dinsdagaand, 9 Junie, op inligting gereageer oor twee vroue wat in Burgerstraat in Brandvlei opgemerk is en vermoedelik dwelms by hulle gehad het. Die verdagtes is aangekeer en na die polisiekantoor geneem waar hulle deursoek is.
Tydens die deursoeking is dwelms met ‘n beraamde straatwaarde van R30 260 na bewering gevind. Die twee vroue, onderskeidelik 21 en 27 jaar oud, is daarna aangekla vir die besit van dwelms.
Hulle sal na verwagting binnekort in die plaaslike hof verskyn.
Die Namakwa-distrikskommissaris, Brigadier Schalk Andrews, het intussen beklemtoon dat die polisie sal voortgaan om teen dwelmverwante misdaad op te tree. Hy het ook gemeenskapslede aangemoedig om met die polisie saam te werk en inligting te verskaf wat kan help om dwelmhandel en ander misdaad in die gebied te bekamp.
