Leerders van Hoërskool Concordia het Dinsdag, 9 Junie 2026, ‘n unieke geleentheid gehad om hul eie familiegeskiedenis te beleef tydens die vertoning van die dokumentêre film Mining Memory deur Daniel Yon.

Die film vertel die verhaal van sowat 100 mans van St. Helena-eiland wat dekades gelede na Namakwaland gekom het om in die kopermyne te werk, insluitend die myne van Concordia.

Vir baie leerders was die vertoning ‘n emosionele ervaring toe hulle hul oupas, oumagrootjies en ander familielede op die skerm herken het en hul persoonlike verhale kon hoor.

Volgens die skool het uitroepe van opgewondenheid gereeld deur die lokaal weerklink wanneer bekende gesigte verskyn het.

Vir baie was die dokumentêr veel meer as bloot ‘n geskiedkundige film, dit was ‘n geleentheid om ‘n direkte verbintenis met hul voorsate en familie-erfenis te ervaar.

Die film het ook die jonger geslag gehelp om hul wortels beter te verstaan en te besef dat die geskiedenis van Namakwaland nie slegs in handboeke bestaan nie, maar voortleef in die herinneringe en ervarings van hul eie families.

Hoërskool Concordia het sy waardering uitgespreek teenoor professor Yon vir sy jarelange navorsing en toewyding om die verhale van hierdie mynwerkers en hul families te dokumenteer.

Deur Mining Memory word die bydraes en opofferings van vorige geslagte bewaar sodat toekomstige geslagte hul herkoms kan verstaan en met trots kan onthou.

Written by:

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *