‘n Toyota Hilux GD-6 dubbelkajuit met ‘n geraamde waarde van sowat R1,48 miljoen is Donderdagoggend by die Vioolsdrif-grenspos teruggevind nadat polisielede vasgestel het dat die voertuig as gesteel aangemeld is.

Volgens die SAPD was die voertuig onderweg van Suid-Afrika na Namibië toe dit tydens ‘n roetine-inspeksie by die grenspos gestop is. Die 48-jarige bestuurder kon na bewering nie dokumentasie voorlê om sy eienaarskap van die voertuig te bewys nie en het aangevoer dat hy dit geleen het. Hy kon ook nie die vereiste bankmagtiging vir die uitvoer van die onlangs aangekoopte voertuig toon nie.

Met die hulp van die Eenheid vir Voertuigmisdaadondersoeke is bevestig dat die Hilux as gesteel aangemeld is. Die bestuurder is in hegtenis geneem en sou Vrydag in die Springbok Landdroshof verskyn op ‘n aanklag wat verband hou met die besit van ‘n vermoedelik gesteelde motorvoertuig.

Namakwa-distrikskommissaris, Brigadier Schalk Andrews, het die polisielede by die grens geloof vir hul vinnige optrede en waaksaamheid. Hy sê die onderskepping beklemtoon die SAPD se verbintenis om te voorkom dat gesteelde voertuie oor Suid-Afrika se grense vervoer word.

Written by:

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *