Die vonnisoplegging van ‘n 42-jarige man wat ‘n 14-jarige meisie in Williston verkrag het, is deur die gemeenskap en die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) verwelkom.

Die voorval het op 15 Februarie 2025 plaasgevind toe die man die minderjarige na bewering gedwing het om saam met hom na ‘n spoorwegbrug te gaan. Daar het hy haar aangerand en verkrag.

Die beskuldigde het op 3 Julie vanjaar in die hof skuld erken op die aanklag van verkragting. Hy is tot 25 jaar direkte gevangenisstraf gevonnis, waarvan vyf jaar vir ‘n tydperk van vyf jaar opgeskort is onder bepaalde voorwaardes. Dit beteken hy sal 20 jaar effektief agter tralies deurbring, mits hy aan die voorwaardes van die opgeskorte gedeelte voldoen.

Benewens die tronkstraf is hy onbevoeg verklaar om ‘n vuurwapen te besit, ongeskik verklaar om met kinders te werk, en sy besonderhede sal op die Nasionale Register vir Seksoortreders aangebring word.

Die Namakwa-distrikskommissaris, brigadier Schalk Andrews, het die ondersoekbeampte, sersant Anthony Willemse van die Gesinsgeweld-, Kinderbeskerming- en Seksuele Misdrywe-eenheid (GKSMS), geloof vir die ondersoekwerk wat tot die skuldigbevinding gelei het.

Volgens Andrews stuur die vonnis ‘n sterk boodskap dat seksuele geweld teen vroue en kinders nie geduld sal word nie en dat oortreders die volle omvang van die reg sal ervaar. Hy het die SAPD se verbintenis herbevestig om kwesbare lede van die gemeenskap te beskerm en geregtigheid vir slagoffers na te streef.

Written by:

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *