Die Noord- Kaapse Premier dr. Zamani Saul het saam met die LUR vir Finansies, Ekonomiese Ontwikkeling en Toerisme, mev. Venus Blennies-Magage, die burgemeester van die Sol Plaatje Munisipaliteit, mev. Martha Bartlett, en munisipale bestuurder, mnr. Thapelo Matlala, die nuwe Tigers Eye-inkubasiesentrum in Kimberley besoek.
Die sentrum is ‘n gesamentlike projek tussen die Noord-Kaapse Provinsiale Regering, deur die Northern Cape Economic Development Agency (NCEDA), en Saven Residence Pty Ltd as strategiese tegnologie- en beleggingsvennoot.
Die inisiatief fokus op die ontwikkeling van die volledige juwelierswarewaardeketting van die ontginning, gradering en verwerking van halfedelstene tot die vervaardiging, bemarking en verkoop van juweliersware.
Deelnemers ontvang ook opleiding in entrepreneurskap, besigheidsbestuur en bemarking om hulle voor te berei vir loopbane in die bedryf.
Die projek sal gefaseerd uitgerol word.
Die eerste groep van 50 jongmense sal aan die einde van Julie 2026 met opleiding begin, terwyl die program uiteindelik 300 deelnemers van opleiding en werksgeleenthede sal voorsien.
Aansoeke vir die eerste opleidingsgroep sluit op 13 Julie 2026.
Jongmense wat belangstel, word aangemoedig om betyds aansoek te doen vir hierdie geleentheid om waardevolle vaardighede te ontwikkel en deel te word van die groeiende juwelierswarebedryf in die Noord-Kaap.









