Wetstoepassingsagentskappe in die John Taolo Gaetsewe (JTG)-distrik het onlangs ‘n reeks hoëdigtheid-operasies uitgevoer wat daarop gemik is om openbare veiligheid te handhaaf en die wet af te dwing.
Op 19 Julie 2024 het polisie beamptes van verskeie eenhede onder die leiding van die adjunk-provinsiale kommissaris vir Polisiëring, generaal-majoor Luntu Ngubelanga, en die JTG-distrikskommissaris, generaal-majoor Johnny Besnaar asook amptenare van die Departement van Binnelandse Sake en die Verkeersdepartement saamgewerk om kriminele aktiwiteite in die streek aan te spreek.
Die spanlede het ontwrigtende aksies uitgevoer, insluitend stop-en-deursoek-operasies, padblokkades en besoeke aan winkelsentrums en winkelkomplekse.
Die operasie is gelei deur intelligensie-gedrewe inligting, wat wetstoepassing in staat gestel het om spesifieke gebiede en individue te teiken.
Tydens die uitvoering van die operasie het die polisie 53 ongedokumenteerde individue aangekeer en verskeie persele in Mahore Park en Bankhara/Bodulong is deursoek.
‘n 62-jarige verdagte is gearresteer vir onwettige drankhandel.
In Seoding Weg is ‘n perseel deursoek waar beamptes beslag gelê het op dwelms met ‘n geraamde straatwaarde van R2 800.
Verder was ’n 45-jarige buitelander in hegtenis geneem vir die besit van dwelms.
Bykans 329 individue is tydens ‘n padblokkade wat op die N14 en R31 uitgevoer is, voorgekeer en deursoek en boetes van altesaam R314 000 is vir verskeie verkeersoortredings uitgereik.
Sestien gesoekte verdagtes is tydens die operasie opgespoor en in hegtenis geneem en beamptes het ook op verskeie gevaarlike wapens beslag gelê.
Shemane het gesê dat die hoëdigtheid-operasie sonder onderbreking sal voortgaan in ‘n poging om misdadigers se operasieruimte te beperk.
