Woensdag (27/11/2024) het die Khâi-Ma Munisipaliteit onder leiding van burgemeester Raadslid Estelle Cloete saam met Speaker Raadslid Johnny Böck, Raadslede Nokwakha Masebeni, James Mowers, Cacilia Bock, en verskeie sleutelrolspelers soos die Suid- Afrikaanse Polisiediens, Departement Maatskaplike Ontwikkeling, ENGIE, Departement van Gesondheid, Gemeenskapspolisïeringsforum, Departement van Justisie, Onafhanklike Verkiesingskomissie en gemeenskapslede, amptelik die 16 Dae van Aktivisme vir Geen Geweld Teen Vroue en Kinders in Pella geloods.
Hierdie veldtog beklemtoon ‘n dringende oproep vir samewerking tussen die regering en die gemeenskap om geslagsgebaseerde geweld (GBV) te beveg.
Dit ondersteun die Nasionale Strategiese Plan om ‘n omgewing van veiligheid en respek vir almal te verseker.
Burgemeester Cloete het gesê: “Die 16 Dae-veldtog is deel van ons voortdurende verbintenis om GBV te bekamp. Deur kollektiewe optrede en vennootskappe kan ons ‘n veiliger Suid-Afrika vir almal bou.”
Die veldtog sal die komende dae na verskeie dorpe in die munisipaliteit versprei, en gemeenskapslede word uitgenooi om aktief deel te neem.
Mans word spesifiek aangespoor om leierskap te toon deur bewusmaking, rapportering van GBV en ondersteuning van voorkomingsinisiatiewe.
Met ‘n verenigde gemeenskap en doelgerigte aksies, glo burgemeester Cloete dat GBV uitgeroei kan word en dat die toekoms van Namakwaland veiliger kan wees.