’n 29-Jarige Noord-Kapenaar, Jonathan Cloete, is deur die Garies-streekhof gevonnis vir die moord op sy meisie se pa, ondanks bewerings dat hy uit selfverdediging opgetree het.

Cloete het op 8 Oktober 2022 ten tyde van die voorval alkohol saam met vriende by sy meisie se huis in Paulshoek, naby Garies, gedrink.

Volgens die streekwoordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), Mojalefa Senokoatsane, het Cloete in ‘n rusie met sy meisie betrokke geraak.

 “’n Stoeiery het ontstaan toe die beskuldigde (Cloete) sy meisie se pa, Jan Links, aangeval het toe hy probeer ingryp het,” het Senokoatsane gesê.

“Die pa het sy mes uitgehaal en die beskuldigde in die arm gesteek. Een van die beskuldigde se vriende het ingegryp en die bakleiery tussen die beskuldigde en die pa gestop. Die beskuldigde en sy vriend het die huis verlaat.”

Senokoatsane het bygevoeg dat Cloete met ‘n mes na die huis teruggekeer het en Links gesteek het, “sonder om ‘n woord te sê”.

“Die beskuldigde het die huis verlaat en die pa het op die toneel aan sy beserings beswyk. Die vriendin het haar huis verlaat saam met haar kind, wat getraumatiseer was nadat sy die gesinstruweling aanskou het. Sy het teruggekeer om die lewelose liggaam van haar pa te vind, bedek met ‘n duvet. Die polisie is ontbied en die beskuldigde is dieselfde nag in hegtenis geneem.”

Senokoatsane het verklaar dat die hof die weergawe dat Cloete uit selfverdediging opgetree het, verwerp het.

“Hy is skuldig bevind aan moord en hy is gevonnis tot 12 jaar gevangenisstraf, waarvan vier jaar opgeskort is vir vyf jaar op die voorwaarde dat die beskuldigde nie skuldig bevind word aan moord, poging tot moord, aanranding met die doel om ernstig te beseer of gewone aanranding nie.”

Senokoatsane het bygevoeg dat Cloete ook onbevoeg bevind is om ‘n vuurwapen te besit.

“Die mes wat deur die polisie gekonfiskeer is, is beveel om aan die staat verbeur te word sodat dit vernietig kan word.”

Written by:

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *