Gesinne is die eerste linie van verdediging en ondersteuning in die beskerming van kinders.
Dit was die boodskap wat Sondag deur die minister van maatskaplike ontwikkeling, Lindiwe Zulu, tydens die bekendstelling van Kinderbeskermingsmaand by die Mittah Seperepere-konvensiesentrum in Kimberley verkondig is.
Zulu het gesê hoewel daar baie suksesvolle maatreëls ingestel is om te verseker dat kinders se regte en veiligheid bewaar word, is daar steeds ‘n ernstige kommer oor kinders wat daagliks verwaarloos, mishandel en vermoor word.
“Een van die groot bekommernisse vir my is die onaanvaarbare hoë vlakke van geweld teen kinders in ons land. Ons het almal gehoor van die tragiese verhaal van die sesjarige Joshlin Smith, wat op 19 Februarie 2024 vanaf Saldanhabaai vermis geraak het en tot vandag toe nog nie gevind is nie. Joshlin se verhaal is die hartverskeurende verhaal van baie kinders in ons land wie se regte geskend word en wat van hul kinderjare beroof word,” het Zulu gesê.
“Ons is ook diep bekommerd oor die kommerwekkende aantal tienerswangerskappe regoor die land, ook hier in die Noord-Kaap, met John Taolo Gaetsewe en Frances Baard die voorste distrikte. Ons moet nou optree om dit te stop. Terwyl ons tienermoeders en -vaders aanmoedig om op skool te bly en hul studies te voltooi. Ons moet saamwerk om tienerswangerskap in die eerste plek te stop.”
Zulu het bygevoeg dat die aanlyn misbruik van kinders ook een van die euwels is wat aan die toeneem is.
“Kinders spandeer vandag die meeste van hul tyd aanlyn. Die ontwrigtende skade-studie toon dat hoewel die aantal jong kinders wat toegang tot die internet en nuwe tegnologie verkry die afgelope jare aansienlik gegroei het, die bewustheid van die potensiële risiko’s laag bly en gevalle van aanlyn seksuele misbruik en uitbuiting het na bewering aansienlik toegeneem.
“Om hierdie werklike bedreigings aan te spreek vereis ‘n holistiese benadering en toewyding van alle belanghebbendes, insluitend ouers, onderwysers, gemeenskapsgebaseerde organisasies en kinders self,” het sy gesê.
Die Noord-Kaapse LUR vir Maatskaplike Ontwikkeling, Nntobeko Vilakazi, het gesê die vennootskap tussen gemeenskappe, wetstoepassing, nie-regeringsorganisasies en die regering is noodsaaklik om hierdie probleme suksesvol uit te roei.
“Alles begin by die huis. Ons het ouers en gemeenskapslede nodig om hul beskermende rol in die lewens van ons kinders te speel. Ons weet dat die plegers van misdade teen kinders in ons gemeenskappe woon – dit is die familielid, die onderwyser, die buurman en selfs die ouer van die kind, wat veronderstel is om die beskermers van die kind te gewees het. Ons het nodig dat ons gemeenskapslede streng uitspreek teen voorvalle waar kinders geskend en mishandel word,” het Vilakazi gesê.
Sy het gesê hoe gouer hierdie sake aangemeld word, hoe vinniger kan die slagoffer hulp kry.
“Ons moes net verlede week dringend ingryp in ‘n saak waar ons gehoor het van ‘n 12-jarige meisie wat seksueel deur haar stiefpa misbruik is. Die saak het aan die lig gekom nadat die meisie se jonger broer die optrede van die stiefpa by die skool in die teenwoordigheid van ‘n onderwyser gedemonstreer het. Die onderwyser het dadelik die saak aangemeld en dit het geblyk dat die meisie jare lank seksueel deur die stiefpa misbruik is. Ons het beide die meisie en seun na ‘n plek van veiligheid geneem en die stiefpa is gearresteer. Wat skokkend was, was dat die stiefpa geen berou of skaamte getoon het oor wat hy aan die dogtertjie gedoen het nie.
“Ons prys almal wat ‘n rol gespeel het om te verseker dat die oortreder gestop word, maar ons moet sulke sake gouer aanmeld. Gemeenskappe kan nie agteroor sit en kyk wanneer hulle gevalle sien of hoor van gevalle waar kinders mishandel word nie. Hoe vroeër sulke sake aangemeld word, hoe vroeër kan ons die kind red.”
Vilakazi het wetstoepassingsagentskappe versoek om ook met meer dringendheid in sulke aangeleenthede op te tree.
“Hierdie gerapporteerde sake is baie sensitief en sommige sloer jare lank. Ons het gehoor van baie gevalle waar sake van die hofrolle geskrap word en selfs van gevalle waar wetstoepassers gesinne aangeraai het om ‘n klag intern op te los sonder om ‘n strafsaak te open. Sulke advies skep selfs meer verwarring oor ‘n reeds kwellende aangeleentheid. Dit stuur ook die boodskap aan ander dat dit nie van belang is om die fluitjie oor sulke sake te blaas nie.
“Ons moet teruggaan na die voetsoolvlak en die impak sien wat hierdie gevalle op die lewens van ons kinders het wat na verwagting nugterdenkende en gesonde geestelik funksionerende volwassenes in die toekoms sal wees,” het Vilakazi gesê.