Die Departement van Gesondheid in die Namakwa-distrik het Wêreld-TB-dag met verskeie inisiatiewe herdenk, met ’n sterk fokus op gesondheidswerkerswelstand en gemeenskapsbewusmaking.
Dit word jaarliks op 24 Maart gevier.
By die Martha Griffiths Gemeenskapsgesondheidsentrum in die Richtersveld Munisipaliteit is die sogenaamde “onbesonge helde” – gesondheidswerkers – vereer tydens ’n Carer Wellness-geleentheid.
Onder die tema “Omgee vir diegene wat vir persone met TB sorg”, het personeel, wat gewoonlik diens lewer, self erkenning ontvang.
Die verrigtinge is gelei deur Distriksdirekteur D. Grootboom, saam met die distrik se kliniese spesialistespan en verteenwoordigers van die Richtersveld Plaaslike Munisipaliteit.
Sprekers het die belangrikheid van gesondheidswerkers se welstand in die stryd teen TB beklemtoon.
Intussen het Komaggas Kliniek ’n opedag aangebied as deel van TB-maand, waar gemeenskapslede bemagtig is met kennis oor infeksiebeheer, hoesetiket en higiënepraktyke.
Die geleentheid het inwoners aangemoedig om aktief betrokke te raak by hul eie gesondheid deur vrae te stel en toegang tot dienste beter te verstaan.
By die Okiep-kliniek het gesondheidswerkers ook hul stem laat hoor deur bewustheid oor TB en handhigiëne te bevorder.
Die fokus was op eenvoudige, lewensreddende gewoontes wat die verspreiding van die siekte kan beperk.
Die verskeie aktiwiteite vorm deel van die nasionale tema: “Ja, jy en ek kan TB beëindig,” en beklemtoon die belangrikheid van samewerking tussen gesondheidswerkers en gemeenskappe in die stryd teen tuberkulose.











