’n Nuwe omgewingsinisiatief by Namaqua Nasionale Park het ’n groep leerders van omliggende skole die geleentheid gegee om aktief betrokke te raak by natuurbewaring en klimaatsverandering.

Tydens die Kids in Parks-program het twaalf leerders uitblink as entoesiastiese deelnemers en is hulle gekies om deel te vorm van die pasgestigte Eco Warriors Program. Die program vind elke eerste Saterdag van die maand plaas vir ’n tydperk van een jaar en fokus op omgewingsopvoeding en praktiese leerervarings in die natuur.

Volgens SANParks skep die program ’n unieke platform waar kinders nie net hul kennis uitbrei nie, maar ook selfvertroue en leierskapsvaardighede ontwikkel. Deelnemers leer nuwe vaardighede, bevorder hul sosiale interaksie, en word gemotiveer om verantwoordelikheid vir die omgewing te neem – beide by die huis en op skool.

“Die doel is om jong leerders toe te rus met praktiese, omgewingsvriendelike vaardighede wat hulle nie net in die park nie, maar in enige natuurlike omgewing kan toepas,” sê JP Louw, SANParks se kommunikasiehoof. “Hulle word opgelei om omgewingskampvegters in hul skole en gemeenskappe te wees.”

Benewens hul maandelikse besoeke aan die park, monitor die leerders ook hul eie skoolomgewings vir omgewingsvriendelikheid en help om ’n kultuur van volhoubaarheid onder hul maats te kweek.

SANParks glo dat hierdie program op lang termyn ’n sleutelrol kan speel in die bevordering van omgewingsbewaring en volhoubare lewenswyses. “Ons beoog om hierdie jong leiers te bemagtig om ’n positiewe verskil te maak – vir hul gemeenskappe en vir toekomstige geslagte,” sluit Louw af.

Written by:

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *