’n Jong man van 22 is op Vrydag 30 Mei in Kalaharistraat, Steinkopf, deur ’n voertuig getref en het later aan sy beserings beswyk – ’n voorval wat die gemeenskap diep ontstel het en nuwe lig werp op die tekort aan nooddienste in die gebied.
Volgens die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) was die man ná die ongeluk nog lewend, maar hulp het te laat opgedaag. Die polisie het bevestig dat ’n saak van strafbare manslag ondersoek word.
“Die oorledene was ’n voetganger en het ná die insident vir ’n geruime tyd nog geleef. Hy is later aan sy beserings dood,” het Polisiewoordvoerder vir die Namakwa-distrik, kapt. Ivan Magerman aan NFM-nuus gesê.
Die gemeenskap is in beroering oor die feit dat daar geen plaaslike ambulansdiens in Steinkopf is nie. ’n Ambulans moes van Springbok af ontbied word – ’n rit van minstens 60 km – en volgens inwoners het dit meer as ’n uur geneem voor mediese hulp opgedaag het.
Jeug-aktivis Deonay Balie beskryf die voorval as ’n vermybare tragedie. “Hierdie jong man het langs die pad gelê en vir sy lewe geveg. Sy dood is nie net hartseer nie – dit is simbolies van hoe landelike gemeenskappe soos Steinkopf afgeskeep word.”
Gemeenskap se eise
Balie sê die gemeenskap eis nou:
• ’n Onafhanklike ondersoek na die hantering van die voorval;
• Die vestiging van ’n volwaardige ambulansdiens in Steinkopf;
• ’n Openbare verslag oor ambulanse wat tydens verkiesings belowe is;
• Volle aanspreeklikheid van betrokke owerhede.
Sy wys ook daarop dat die Noord-Kaapse Premier, dr. Zamani Saul, in die verlede ambulanse aan gemeenskappe oorhandig het as deel van verkiesingsveldtogte, maar dat daar nou geen sigbare teenwoordigheid van nooddienste in Steinkopf is nie.
Polisiediens doen beroep op publiek
Die SAPD doen ’n beroep op enigiemand met inligting oor die voorval om speursergeant Lucas Johannes Bock te kontak by 082 824 1598 of die Stop Misdaad-nommer te skakel by 08600 10111. Inligting kan ook deur die MySAPS-toep gedeel word. Alle inligting sal vertroulik hanteer word.
Die ondersoek duur voort. Nfm-nuus het Die Noord-Kaapse departement van gesondheid vir kommentaar genader.
