Die Noord-Kaapse departement van landbou, omgewingsake, landelike ontwikkeling en grondhervorming het die Upington-krematorium beveel om die beweerde onwettige storting van verasde menslike oorskot by die De Duine-stortingsterrein in Upington te staak.
’n Woordvoerder van die kantoor van die LUR vir Landbou, Omgewingsake, Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, Bongani Silingile, het Dinsdag gesê die departement se luggehaltebestuur-, besoedeling- en afvalbestuureenheid het inspeksies by die De Duine-stortingsterrein gedoen en hulle het ontdek dat kisdeksels en as wat verbrande bene bevat gestort is.
“Die afval is in swart plastieksakke weggegooi. Die meeste van die swart vullissakke is geskeur en is met ander afval gemeng,” het Silingile gesê.
Hy het bygevoeg dat die eienaar van die Upington-krematorium erken het dat die afval wat by die stortingsterrein gestort is, afkomstig is van afval van die krematorium.
“Die eienaar kon egter nie spesifiseer of die afval ’n algemene of gevaarlike afval was nie.”
Silingile het gesê dat die departement Upington Krematorium verder aangeraai het om sy afval te assesseer met ‘n laboratorium wat deur die Suid-Afrikaanse Nasionale Akkreditasiestelsel (SANAS) geakkrediteer is ingevolge die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur: Afval, No 59 van 2008, Norme en Standaarde vir die Assessering van Afval vir stortingsterrein wegdoening 2013.
“Hulle is verder as ’n dringende aangeleentheid aangeraai om ’n vervoerder vir gevaarlike mediese afval te kontak vir die wegdoening van die afval by ’n gevaarlike stortingsterrein.”
Hy het gesê die departement het opdrag gegee dat verasde menslike oorskot nie na die stortingsterrein vervoer moet word nie.
“’n Diensverskaffer moet aangestel word om die afval op ’n gevaarlike stortingsterrein te versamel en weg te gooi. Rekords van die afval wat vervoer is en finale wegdoeningsertifikate moet gehou word vir toekomstige verifikasies.”
Silingile het gesê dat afval ontleed kan word om die gevaarlike gradering vas te stel.
“Die eienaar van die fasiliteit is verder aangeraai om op te hou om menslike as by ‘n algemene afvalstortingsterrein weg te gooi.
“Die Upington-krematorium is in stryd met die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur: Afval No 59 van 2008, Hoofstuk 4, Artikel 16, algemene plig ten opsigte van afvalbestuur.
“Versuim om by hierdie aanbeveling te hou, sal daartoe lei dat die departement regstappe teen die Upington-krematorium moet neem,” het Silingile afgesluit.