Die Noord-Kaapse myn eienaar, Christopher David Kimber word daarvan aangekla dat hy ‘n Britse sakeman uit R147 miljoen bedrieg het nadat hy hom na bewering oortuig het om in ‘n mynonderneming te belê.
Kimber het homself die afgelope Woensdag aan die Valke oorhandig en het die einste dag in die Kimberley Landroshof verskyn.
Kaptein Bonnie Nxumalo, woordvoerder van die Noord-Kaapse Valke, het bekend gemaak dat Kimber tereg staan op aanklagte van bedrog en geldwassery en was op ‘n borgtog van R100 000 vrygelaat.
“Daar word beweer dat Kimber, wat myne in die Noord-Kaap besit, in 2013 met ‘n sakeman van die Verenigde Koninkryk vergader het oor ‘n belegging om 50% aandele van sy besighede te koop”, meen Nxumalo .
Die belegger het glo R147 miljoen in Kimber se bankrekening inbetaal, maar die geld is na persoonlike bankrekeninge oorgeplaas, en was in geen belegging belê nie.
Die oomblik toe die sakeman besef het dat geen belegging gemaak was nie, het hy die saak by die polisie aangemeld.
Die Valke het toe ‘n ondersoek geloods wat gelei het tot Kimber se arrestasie.
Christopher Kimber sal op 17 Augustus weer op die hof verskyn.
