Die voorsitter van die Parlement se portefeuljekomitee oor basiese onderwys, Bongiwe Mbinqo-Gigaba, het met “ernstige kommer” kennis geneem van ‘n toename in voedselvergiftiging onder leerders wat glo versnaperinge by verkopers buite skole gekoop en siek geword het.
Mbinqo-Gigaba het gesê die jongste voorval wat onder haar aandag gebring is, het betrekking op nege leerders van Laerskool Jan Kempdorp, waar die Noord-Kaapse departement van onderwys bevestig het dat die leerders mediese bystand moes kry en gehospitaliseer is nadat hulle siek geword het nadat hulle glo skyfies geëet het wat hulle van straat af gekoop het by verkopers op pad skool toe op 23 Oktober.
Mbinqo-Gigaba het gesê die jongste voorval in Jan Kempdorp het getoon dat daar ‘n kommerwekkende toename in die aantal voedselvergiftigingsgevalle onder skoolleerders in die land is.
“Die portefeuljekomitee het met ernstige kommer kennis geneem van ‘n toename in voedselvergiftiging van leerders wat na bewering versnaperinge by verkopers buite skole gekoop het en siek geword het. In die jongste voorval in die Laerskool Jan Kempdorp in die Noord-Kaap is ’n brief aan ouers gestuur waarin hulle ingelig is oor leerders wat by die skool aan voedselvergiftiging gely het nadat hulle na bewering skyfies geëet het wat hulle die oggend op pad skool toe gekoop het. Leerders het maagkrampe, gevoelloosheid en hoofpyne opgedoen. Hulle is hospitaal toe geneem en volgens die skool is alles nou onder beheer,” het Mbinqo-Gigaba gesê.
“Verlede week is ‘n graad 3-leerder van Tshepisong in Roodepoort dood nadat sy na bewering beskuitjies geëet het wat sy by ‘n plaaslike spaza-winkel gekoop het. Verlede maand is berig dat 90 leerders van Soshanguve in Gauteng siek was en hospitaal toe vervoer is nadat hulle na bewering “ruimtekoekies” geëet het wat by ‘n verkoper net buite ‘n plaaslike skool gekoop is.
Mbinqo-Gigaba het ouers versoek om waaksaam te wees wanneer hulle peuselhappies vir hul kinders koop.
“Ouers wat hul kinders van versnaperinge wil voorsien, moet eerder self die eetgoed vir die kinders koop. Ouers moet ook verseker dat wanneer hulle hierdie versnaperinge koop, hulle dit by betroubare winkels doen.
“Hierdie [voedselvergiftiging] voorvalle het ‘n baie kommerwekkende neiging geword. Sommige van die verskaffers waar ons kwesbare kinders versnaperinge koop blyk nie omgee vir die gesondheid van ons leerders nie.
“Ouers moet oplet dat voedselvergiftiging gevaarlik is en daar moenie met die gesondheid en lewens van ons toekomstige leiers speel nie,” het Mbinqo-Gigaba gesê.