In ‘n poging om die voortdurende uitdaging van onwettige mynbou in die Namakwa-distrik die hoof te bied, het ‘n multi-dissiplinêre span gelei deur die adjunk-provinsiale kommissaris vir polisiëring, generaal-majoor Luntu Ngubelanga saam met die Namakwa-distrikskommissaris, brigadier Skalk Andrews, provinsiale komponente en eksterne rolspelers het op Maandag, 29 Januarie 2024 ‘n vroegoggend-klopjag by die Bontekooi informele nedersetting in die Nuttabooi-myngebied uitgevoer.
Die operasie genaamd Vala Umgodi, het gefokus op transnasionale oortredings en die toenemende misdaad in die Namakwa-myngebied.
Die multi-dissiplinêre span bestaande uit SAPD, SANW, die departement van binnelandse sake, die nasionale vervolgingsgesag, die departement van justisie en die Vetus Schola-veiligheidsmaatskappy het op die nedersetting toegeslaan en 24 ongedokumenteerde persone gearresteer omdat hulle onwettig in die land was.
“Van die 24 persone was 18 mans en 6 vroue (11 Zimbabwiërs, 1 Mosambiek en 12 Lesotho-burgers is aangehou). Daar was beslag gelê op talle mynimplemente, insluitend kragopwekkers, siwwe, domkraghamers, omskakelaars, veiligheidsstewels, oorpakke, gassilinders, ‘n televisiestel, kookgerei en gasstowe,” het die Noord- Kaapse polisiewoordvoerder Brigadier Mashay Gamieldien gesê.
Die items is in ‘n onbewoonde hut by die nedersetting ontdek.
“Generaal-majoor Ngubelanga het aangedui dat die polisie nie sal toelaat dat die provinsie deur buitelandse burgers geïnfiltreer word nie, vandaar die uitvoering van hierdie tipe operasies en ons sal die ruimte vir hulle in kort om te werk.”
“Die Provinsiale Kommissaris van die Noord-Kaap, luitenant-generaal Koliswa Otola het die samewerkingspogings deur al die rolspelers geloof vir hul meedoënlose strewe om onwettige mynbou in die distrik uit te roei.”










