Verskeie wetstoepassingsagentskappe het kragte saamgesnoer tydens Operasie Phakisa om mariene verwante misdaad langs die Namakwa-kus aan te spreek. Die operasie is tussen 30 April en 3 Mei in gebiede soos Kleinzee, Port Nolloth, Alexanderbaai en Groenrivier uitgevoer.
Die multi-taakspan het bestaan uit verskeie gespesialiseerde SAPD-eenhede, asook departemente waaronder Bosbou, Visserye en die Omgewing, Binnelandse Sake, Landbou en Omgewingsake, Doeane en die Provinsiale Verkeersdepartement.
Volgens owerhede was die fokus van die operasie om misdaad wat met kusaktiwiteite verband hou hok te slaan. Lede het persele deursoek, voertuigbeheerpunte opgerig en inspeksies by hawens, slipways, myngebiede, kampeerterreine, lanseerplekke en restaurante uitgevoer.
Altesaam 94 voertuie, 207 persone en verskeie bote is tydens die operasie deursoek. Vier persone is in hegtenis geneem vir beweerde oortredings van die Immigrasiewet, terwyl nog ’n verdagte gearresteer is nadat ’n vispermit glo bedrieglik verander is.
Boetes van R4 500 is uitgereik vir verkeersoortredings, terwyl tien persone boetes van altesaam R12 400 ontvang het vir oortredings van die Wet op Mariene Lewende Hulpbronne. Dit sluit onder meer visvang sonder permitte en die versuim om permitvoorwaardes na te kom in.
Owerhede het ook snoek ter waarde van sowat R7 300 gekonfiskeer.
Die Provinsiale Kommissaris van die Noord-Kaap, luitenant-generaal Koliswa Otola, het SAPD-lede en vennote geloof vir die suksesvolle uitvoering van die operasie en hul pogings om wet en orde langs die Namakwa-kus te handhaaf.
