Die Suid-Afrikaanse Polisiediens het ’n ernstige slag toegedien aan die onwettige handel in bedreigde wildspesies met die inhegtenisneming van drie verdagtes naby Garies in die Namakwa-distrik.

Die arrestasies het Maandagaand, 2 Februarie 2026, kort ná 22:00 op die N7 plaasgevind toe polisielede ’n verdagte voertuig onderskep het wat glo met die onwettige vervoer van armadillo-gordelakkedisse verbind word. Die drie mans, tussen 21 en 37 jaar oud, word daarvan verdink dat hulle die Noord-Kaapse Natuurbewaringswet 9 van 2009 oortree het.

Volgens inligting uit die kantoor van die Distrikskommissaris: Namakwa, het die saak begin nadat betroubare inligting ontvang is oor ’n rooi Volkswagen Golf wat in die area rondbeweeg het. Toe die voertuig deur polisie opgemerk is en beveel is om stil te hou, het die bestuurder glo versnel en ’n gevaarlike jaagtog het gevolg.

Tydens die agtervolging is waargeneem hoe items uit die bewegende voertuig gegooi word. Hierdie items is later as armadillo-gordelakkedisse geïdentifiseer. Die verdagtes is uiteindelik voorgekeer, aangekeer en na die toneel teruggebring waar hulle formeel in hegtenis geneem is.

Altesaam 84 van die beskermde reptiele is deur die polisie teruggevind en as bewysstukke geregistreer. Die diere se geskatte waarde beloop ongeveer R123 000. Die voertuig wat gebruik is, is ook gekonfiskeer.

Die ondersoek word tans deur die Springbok Veediesfstal en bedreigde spesies eenheid hanteer. Die verdagtes sal na verwagting binnekort in die Garies-landdroshof verskyn.

Written by:

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *