‘n Saak van huisbraak en diefstal was gister, Woensdag 30 Augustus by Port Nolloth polisie aangemeld.
‘n Woordvoerder vir die polisie, Sersant Molefi Shemane het bevestig dat daar beweer word dat die voorval in die vroeë oggendure in McDougallsbaai naby Port Nolloth plaasgevind het waar Go-Pro-kameras, tablettoestelle en verskeie elektroniese toerusting gesteel is.
Terwyl die klaer besig was om sy verklaring af te lê, het lede van die Port Nolloth-speureenheid naamlik konstabel Esau, konstabel Van Den Heever en konstabel Coetzee dadelik die toneel besoek en met voorlopige ondersoeke begin.
“Binne ‘n halfuur het hul ondersoek gelei tot die inhegtenisneming van ‘n 25-jarige man en die herwinning van gesteelde eiendom ter waarde van ongeveer R30 000-00. Die verdagte sal binnekort in die Springbok-landdroshof verskyn,” het Shemane gesê.

