SoupDrive- ‘n voertuig om te deel in luisteraars se lief en leed

 SoupDrive- ‘n voertuig om te deel in luisteraars se lief en leed

Foto: Verskaf @Ricardo Zebulon Simon

Met die nat koue wintersdag wat ons alreeds Dinsdag, 14 Junie 2022,  ervaar het en selfs die dae wat kom, sien baie gemeenskappe daarna uit na Radio Nfm se SoupDrive uitreikingsveldtog.

Met hierdie veldtog word daar gefokus op die insameling van komberse om van die luisteraar wat koud kry, te kan voorsien met ‘n kombers om warm te wees.

Die jaar se SoupDrive wat oor die jare heen harte verbly het met ‘n koppie warm sop wat met liefde voorberei was deur verskeie sopkombuise of selfs ‘n tannie in die straat wat haar stoof beskikbaar gestel het.

Die glimlagte op die gesigte van die gemeenskapslede waar daar ‘n besoek afgelê was, het nog altyd die harte van omroepers sag gemaak.

Omroepers geniet dit om saam met luisteraars te kuier en te luister na hul lief en leed.

Hulle word dan “berader” vir menigte wat hul harte wil oopmaak en sê wat pla en wat hul ondervind in hulle onderskeie gemeenskappe.

Somtyds moet hulle die trane aanskou, want gemeenskapslede is moedeloos en soms hopeloos en wil net hoop opgee.

Hulle vertel van die swaarkry en hoe hulle in die oggend wakker word, en wonder waar kom die volgende bord kos vandaan of brood om vir die kinders te gee as hulle uit die skool uitkom.

SoupDrive bring die omroepers en die luisteraar na aan mekaar en diepe stories word gedeel en daar word wel ook saam gelag en dit laat vergeet baie van die luisteraar van hul probleme en hul uitdagings wat hulle ondervind.

Vir omroepers om weer die oor te kan wees vir die luisteraar het die radiostasie die hulp van die luisteraar, besighede, kerke, nie-regerende organisasies en selfs individue se hulp nodig om ‘n sukses van die winterprojek te maak.  

Om besoek te gaan aflê by verskeie gemeenskappe in die Namakwa-distrik word droë sop produkte, kruideniersware, brood, brandstof, komberse en kontant bydraes verwelkom.

Die produkte of kontant kan afgelewer word by Radio Nfm se kantore te Hoofweg Okiep.

Kontant inbetalings kan gemaak word by Radio Nfm se bank rekening: Radio Nfm: rekening nr, 082 377 618 Standard Bank, Springbok Tak: en die verwysing wat gebruik word is SoupDrive vir u inbetalings.

Bernadine Hearn

Related post