Dinsdag (20/08/2024) het die Minister van Toerisme Patricia de Lille en Noord-Kaapse premier, dr. Zamani Saul, die 2024 Binnelandse Toerisme-program amptelik bekendgestel, wat die begin van Toerisme Maand 2024 merk.
Vanjaar is die fokus op die Noord-Kaap ‘n provinsie ryk aan potensiaal en gereed om ‘n sleutelrol in Suid-Afrika se ekonomiese en toerismegroei te speel.
Wêreldtoerismedag sal Vrydag 27 September op Carnarvon onder die sterre by die Square Kilometre Array (SKA), die wêreld se grootste ruimteteleskoopversameling, gevier word.
Premier Saul het die onontginde potensiaal van die Noord-Kaap uitgelig en die provinsie se oorvloedige sonkragbronne as ‘n oplossing vir Suid-Afrika se elektrisiteitsuitdagings beklemtoon.
Hy het ook die strategiese ontwikkeling van die Boegoebaai-hawe en die vestiging van Spesiale Ekonomiese Sones (SEZ’s) bespreek wat industriële groei sal aandryf, werk skep en beleggings na die streek sal lok.
Minister de Lille het haar opgewondenheid uitgespreek oor die Noord-Kaap se unieke aanbiedinge, veral op die gebied van astro-toerisme.
Die provinsie is die tuiste van die Square Kilometre Array (SKA) naby Carnarvon, die wêreld se grootste radioteleskoop, wat die Noord-Kaap posisioneer as ‘n leier in wetenskaplike innovasie en ‘n topbestemming vir astro-toerisme.
Die Departement van Toerisme, in samewerking met die Departement van Wetenskap en Innovasie, finaliseer die Nasionale Astro-toerismestrategie, wat Suid-Afrika as ‘n wêreldklas astro-toerismebestemming sal posisioneer.
Die Noord-Kaap, met sy helder lug en gevorderde sterrekundeprojekte, staan sentraal tot hierdie inisiatief.
Toerisme is ‘n noodsaaklike sektor vir Suid-Afrika se ekonomie en dra 8,8% tot die BBP by in die eerste kwartaal van 2024.
Die doelwit is om dit teen 2030 tot 10,4% te verhoog.
Die Noord-Kaap se uiteenlopende aanbiedinge, van sy natuurlike skoonheid tot strategiese projekte soos die Boegoebaai Hawe en SEZ’e is die sleutel om meer besoekers te lok en die plaaslike ekonomie ‘n hupstoot te gee.
Minister de Lille het alle Suid-Afrikaners aangemoedig om die Noord-Kaap te verken en te bevorder, en Toerismemaand te vier as ‘n tyd vir beide genot en voorspraak, om te verseker dat toerisme bydra tot ekonomiese groei en verbeterde lewenskwaliteit vir almal.









