‘n Vragmotorbestuurder is Woensdagmiddag by ‘n vragmotorhalte naby die Vioolsdrif-grenspos met Namibië beroof, waarna die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) twee verdagtes kort daarna in hegtenis geneem het.
Volgens die SAPD het die voorval omstreeks 12:15 op 8 Julie plaasgevind toe twee mans, onderskeidelik 26 en 27 jaar oud, die bestuurder genader en geld geëis het. Toe hy geweier het om aan hul versoek te voldoen, het die verdagtes na bewering sy beursie met geweld gegryp en van die toneel gevlug.
Polisiebeamptes van Vioolsdrif het onmiddellik op die voorval gereageer, die verdagtes opgespoor en hulle kort daarna in hegtenis geneem. Die ondersoek duur voort.
Die Namakwa-distrikskommissaris, Brigadier Schalk Andrews, het intussen vragmotorbestuurders wat die Vioolsdrif-grensroete gebruik, gemaan om waaksaam te bly wanneer hulle by rus- of vragmotorhaltes stilhou.
Volgens Andrews dui inligting daarop dat sommige misdadigers bestuurders onder die voorwendsel nader om ‘n klein bedrag geld te vra. Indien die versoek geweier word, kan hulle na bewering oorgaan tot roof en slagoffers van hul persoonlike besittings beroof.
Die SAPD doen ‘n beroep op vragmotorbestuurders wat tussen Suid-Afrika en Namibië reis om enige verdagte optrede onmiddellik by die polisie aan te meld.
Enigiemand met inligting oor misdadige bedrywighede in die omgewing word versoek om luitenant-kolonel Japie Peters by 060 861 6550 of 082 495 5294 te kontak, die SAPD se Misdaad Stop-nommer by 08600 10111 te skakel, of die MySAPS-toepassing te gebruik. Alle inligting sal vertroulik hanteer word.
