’n Reeks verdagte oproepe het kommer in die Namakwa-distrik ontlok nadat ’n man hom glo as ’n kaptein van die Suid-Afrikaanse Polisiediens voorgedoen het en plaaslike wyksraadslede vir name van sogenaamde polisiekandidate gevra het.
Volgens ’n persverklaring van die Kantoor van die Distrikskommissaris in Namakwa, is raadslede vanaf die selfoonnommer 067 438 4100 gekontak deur iemand wat homself as “Kaptein Dlamini” voorgestel het. Die beller het na bewering versoek dat vyf name van persone wat vir polisie-opleiding oorweeg kan word, aan hom deurgegee word.
Die polisie beklemtoon egter dat geen werwingsproses op dié wyse plaasvind nie. Die SAPD werf nie kandidate deur raadslede telefonies te nader of name informeel in te samel nie. Alle amptelike werwings- en opleidingsgeleenthede word slegs deur goedgekeurde en openbare kanale geadverteer en bestuur.
Die voorval wek kommer, veral omdat dit gemik is op verkose openbare verteenwoordigers – mense wat dikwels as skakels tussen owerhede en gemeenskappe dien. Indien sulke versoeke sonder verifiëring nagekom word, kan dit inwoners blootstel aan identiteitsdiefstal of ander vorme van bedrog.
Gemeenskapslede word sterk aangeraai om geen persoonlike besonderhede, identiteitsnommers of dokumente aan onbekende oproepers te verskaf nie. Enige verdagte oproepe moet onmiddellik by die naaste polisiekantoor aangemeld word.
Persone wat reeds soortgelyke oproepe ontvang het, word versoek om dit deur die Misdaadstopnommer by 08600 10111 of via die MySAPS-toepassing aan te meld. Alle inligting sal vertroulik hanteer word.
Die owerhede sê die distrik bly verbind tot die veiligheid en beskerming van sy inwoners – maar waarsku dat waaksaamheid in ’n tyd van toenemende telefoniese bedrog noodsaaklik is.
