Vedanta Zinc International, in vennootskap met die Noord-Kaapse Gesondheidsdepartement, het die splinternuwe van Niekerk Onkologiesentrum in Springbok amptelik bekendgestel.
“In 2015 het ons begin met ‘n mobiele kanker-siftingsprogram en in 2024 het ons begin met die implementering van die bou van ‘n permanente behandelingsentrum. Vandag begin ons met die langverwagte Vedanta Onkologieprojek, ‘n transformerende nuwe fasiliteit in Springbok. Dit is ‘n mylpaal in ons missie om kankersorg te desentraliseer en die mense van Namakwa te ondersteun. Die Vedanta Onkologieprojek is ‘n stap in die rigting van langtermyn-toegang tot gesondheidsorg – gebou met sorg, aangedryf deur vennootskappe,” het Vedanta Zinc International gesê.
Die sentrum is geleë by die Dr. Van Niekerk-hospitaal en vorm deel van ‘n verbintenis wat tydens die 2022 Mining Indaba tussen die regering en die private sektor aangegaan is.
Volgens Vedanta sal die fasiliteit kankersifting, diagnose en behandeling na gemeenskappe bring wat voorheen geografiese en infrastruktuur-uitdagings moes trotseer.
LUR vir Gesondheid, Maruping Lekwene, het gesê dat vroeë opsporing en ingryping die kanse op herstel verhoog en pasiënte in staat stel om behandeling nader aan hul huise te ontvang.
Met hierdie nuwe sentrum hoop owerhede om dié getalle dramaties te verbeter en toegang tot kwaliteit gesondheidsorg te verhoog.





