Die amptelike Vrouedag vieringe was gister deur die Noord-Kaapse provinsiale regering, by die sportstadion in Port Nolloth, Richtersveld munisipaliteit in die Namakwa Distrik aangebied.
Sowat 2000 gemeenskapslede, vroue met KMMO’s en Namakwalanders van heinde en verre, het die geleentheid bygewoon.
Die Premier van die Noord-Kaap, Dr. Zamani Saul het tydens sy toespraak, vroue gelukgewens met die herdenking van Vrouedag, maar het hulle ook sterkte toegewens met die oneindige uitdagings wat hulle verduur.
Saul het genoem dat sy kantoor daartoe verbind is om vroue, jeugdiges en persone met gestremdhede te bemagtig.
In sy onderhoud met NFM Nuus het hy genoem, dat inter-departementele samewerking ‘n sleutel is tot die bekamping van Vroue-uitdagings.
Die LUR vir die Ministerie van Jeug, Vroue, Persone met gestremdhede, Kommunikasie en e-Regering, Me. Venus Lorato Blennies het op haar beurt aan NFM nuus bevestig, dat die rpovinsiale regering steeds sukkel om die privaatsektor aanboord te kry, om nog meer vroue en jeugdiges te kan bemagtig.
Blennies staan uit as ‘n staatmaker en het baie tyd afgestaan om na gemeenskapslede, veral vroue met klein besighede se uitroepe te luister, sodat hulle besighede ook iets vir hul families en gemeenskappe kan beteken.
Saul het in sy slotsom R4.1 miljoen toegeken aan 205 vroue met klein besighede regoor die Namakwa-distrik.
Sy hoop is dat die geld aangewend sal word tot groei en volhoubaarheid van die besighede en om werksgeleenthede te skep.
R320 000 is ook geskenk aan kunstenaars wat opgetree het by die geleentheid.
Die Namakwa Distrik Munisipaliteit het op hul beurt die skenking as ‘n ongelooflike mylpaal in ons reis van bemagtiging en vooruitgang beskryf.
“Die skenking is ‘n ware bewys van toewyding om verandering te dryf en die gemeenskap op te hef”, lui die verklaring.
Hierdie skenking van R20 000 aan elk van die 205 vroue regoor die Namakwa-distrik sal as ‘n hupstoot vir hul besighede dien, wat groei en vooruitgang sal kataliseer, en werksgeleenthede kan skep.
Wanneer ons saamwerk en ondersteuning bied aan ons vroue-entrepreneurs, skuif ons nie net individuele besighede nie, maar ook die ekonomiese landskap van ons distrik.
Hierdie geleentheid sal die deure oopmaak vir innoverende idees, groeiende suksesse en ‘n groter gemeenskapsimpak wat ons almal sal verryk.
Kyk na die foto’s hieronder:












