Die Noord-Kaapse premier, dr. Zamani Saul, sal van 4 tot 5 April met die Provinsiale Huis van Tradisionele en Khoi-San-leiers in Kuruman vergader vir ‘n kapasiteitsbou-seminaar by die Leisure Inn.
Die woordvoerder van die kantoor van die premier, Bronwyn Thomas-Abrahams, het gesê Saul sal met tradisionele leiers vergader om resolusies te soek oor die uitdagings wat tradisionele rade in die gesig staar.
“Die seminaar beoog verder om kapasiteit vir tradisionele rade te bou en maniere te vind om die gaping tussen gemeenskappe, regering, breër burgerlike samelewing en die private sektor te oorbrug asook om dienslewering in tradisionele gemeenskappe te versnel,” het Thomas-Abrahams gesê.
Sy het bygevoeg dat lede van die uitvoerende raad, distriksburgemeesters, speakers, hoofswepe en munisipale bestuurders van die drie plaaslike munisipaliteite, asook senior amptenare van nasionale en provinsiale regering, ook die geleentheid sal bywoon.
