Die Provinsial kommissaris van die SAPD in die Noord-Kaap, luitenant-generaal Koliswa Otola, die adjunk-provinsiale kommissaris vir polisiëring, generaal-majoor Luntu Ngubelanga, die adjunk-provinsiale kommissaris vir korporatiewe dienste, generaal-majoor Thabo Mphuthi, en die waarnemende provinsiale kommissie vir misdaadopsporing, generaal-majoor Jacques Raymond, het Maandag, 13 Mei 2024, die sleutels van 63 nuwe polisievoertuie aan polisiekantore regoor die provinsie oorhandig.
SAPD se provinsiale woordvoerder, luitenant-kolonel Sergio Kock, het gesê die nuwe vloot bestaan uit 40 Toyota-dubbelkajuit- en 23 Isuzu 4×4-dubbelkajuitbakkies wat geskik is vir die werkende terrein van die provinsie.
Luitenant-generaal Otola het gesê dat die nuwe voertuie misdaadbekampingsoperasies, soos Operasie Shanela en Operasie Vala Umgodi, in die provinsie sal bevorder.
Sy het lede daaraan herinner om die hulpbronne verantwoordelik en doeltreffend te benut en om voort te gaan om misdaad te bekamp deur besliste polisie-optrede en robuuste gemeenskapsbetrokkenheid.
“Die SAPD sal voortgaan om die reaksietyd op gemeenskapsklagtes en sigbare polisiëring te verbeter met ‘n konsekwente fokus om die provinsie veilig te hou,” het Otola bygevoeg.



