Terwyl huldeblyke steeds instroom vir die voormalige konstitusionele hofregter Yvonne Mokgoro (73) wat in Kimberley gebore is, is haar lewensmaat gedagvaar om op 30 Mei in die Barkly-Wes-landdroshof te verskyn, ná haar dood verlede week in Johannesburg.
Regter Mokgoro is as ‘n pionier op haar gebied beskou, aangesien sy die eerste swart vroueregter was wat van 1994 tot 2009 op die eerste konstitusionele hofbank gesit het.
Mokgoro was in 2023 in ‘n motorongeluk betrokke wat ‘n botsing met ‘n vragmotor tussen Kimberley en Warrenton behels het, waar haar lewensmaat, David Melesi, die bestuurder was.
Mokgoro het ernstige beserings opgedoen wat haar gesondheid beïnvloed het en sy moes haar van openbare verpligtinge onttrek.
Sy is verlede week Donderdag in ‘n Johannesburgse hospitaal dood.
Mojalefa Senokoatsane, streekwoordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag (NVG), het gesê Melesi is ná die ongeluk van roekelose en nalatige bestuur aangekla en is op ‘n waarskuwing vrygelaat.
Senokoatsane het bygevoeg dat Melesi na verwagting op 30 Mei in die Barkly-Wes-landdroshof sal verskyn waar die aanklagte na strafbare manslag gewysig kan word.
Noord-Kaapse premier, dr. Zamani Saul, het gesê dat Mokgoro “een van die briljantste regsmense” is en altyd onthou sal word as ‘n “verdediger van geregtigheid, gelykheid, sosiale kohesie en menswaardigheid en vir haar passie om Suid-Afrika te dien”.
Die voorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies, Amos Masondo, en die waarnemende speaker van die Nasionale Vergadering, Lechesa Tsenoli, het gesê die heengaan van een van Suid-Afrika se mees vooraanstaande regsgeleerdes en akademici was ‘n tragiese verlies, nie net vir haar familie nie, maar vir die hele volk.
“Reter Mokgoro het haar loopbaan as administratiewe klerk begin en deeltyds gestudeer. Haar deursettingsvermoë en harde werk het vrugte afgewerp toe sy uiteindelik ’n intellektueel vooraanstaande akademikus geword het met twee meestersgrade.”
Hy het verklaar dat Mokgoro ‘n vurige voorstander vir vroueregte was en onvermoeid geveg het vir hul erkenning in die samelewing.
Sy is in 2015 deur oudpresident Jacob Zuma met die Order of the Baobab in brons toegeken, ter erkenning van haar uitstekende bydrae tot die reg en die regspleging in ‘n demokratiese Suid-Afrika.
BRON: DFA
