‘n Omgewingsgesondheid-evaluasie was onlangs by die Bimbo voorskoolse sentrum op die 18de April 2024 deur die Namakwa Distriksmunisipaliteit gedoen.

Tydens die evaluasie was verskeie ooglopende veiligheidsrisikos uitgelig.
Die uitslag van die evaluasie is aan die voorsitter van die kommittee verantwoordelik vir die bestuur van die sentrum uitgereik.

Tot op hede is daar nog geensins aandag geskenk aan die regstelling van die saak nie.
Die skool is gedwing om hul deure te sluit omdat dit onveilig is vir die kinders om daarheen te gaan weens die haglike toestand waarin die infrastruktuur verkeer.
Bimbo voorskoolse sentrum sou hierdie jaar hul veertigste bestaansjaar vier, maar die moontlikheid dat dit sal gebeur is skraal weens die veiligheidsrisiko wat die infrastruktuur vir die kinders inhou.

George Cloete, voormalige wyksraadslid en Chantal Cloete, opvoeder van Bimbo voorskoolse sentrum het koppe bymekaar gesit om ‘n vergadering te reël wat oop sal wees vir lede van die gemeenskap.
Die doel van die vergadering is om ‘n poging aan te wend om deur te dring na die gemeenskap in die hoop dat iemand wat ‘n finansiele bydare kan maak na vore kom en sodoende die nodige ondersteuning aan die sentrum te verleen.
